Wanneer is die NG Kerk op haar beste?

Met erkenning aan : Grens.Pos – Nr 8 – 7 Maart 2019

Tydens ‘n gesprek oor kommunikasie vanuit die NG Kerk het die Moderamen van die Algemene Sinode nagedink oor situasies waar die NG Kerk op haar beste funksioneer het. Een van die gevolgtrekkings is dat dit gebeur waar die kerk geloof en lewe bring.

    Die volgende aangrypende verhaal is toe vertel oor ‘n tyd toe die NG Kerk se motto “Afrika vir Christus” was:

    Die NG Kerk verbintenis met Nigerië kom van die sendingbeweging vanaf 1907. Dr Karl Kümm van SUM (Sudan United Mission) het Suid-Afrika op versoek van dr Andrew Murray besoek. Dit het gelei tot die finale jaar teologie student George Botha en ‘n verpleegster CM Cilliers wat die roeping na Nigerië aanvaar het.

    George het eers ses maande mediese opleiding in London ontvang en saam met nog ‘n sendeling Vincent Hosking het hulle in 1908 na Nigerië vertrek. CM Cilliers het in 1909 by hulle aangesluit.

    Hulle het aanvanklik in Mbula gewerk en later na Salatu (Saaiutu) getrek om die evangelie aan die mense van Tivland te verkondig. Talle sendelinge het die volgende vyftig jaar daar gewerk en veral Bybelskole en Sondagskole ontwikkel. Die ortografie van die Tiv taal as geskrewe taal is ook ontwikkel deur die sendelinge en die huidige amptelike Bybelvertaling in Tiv is in 1964 voltooi.

    Elspeth Liebenberg se oupa Johannes Gerhardus Strydom (Valie) het by die sendingwerk daar in 1913 aangesluit en onder andere uiteindelik die Evangelies vertaal in die Tiv taal. Dit was ‘n uitdaging, want daar is bv nie woorde vir Bybelterme soos “liefde”, “aanbidding”, en “heilig” in die Tiv taal nie. Hulle het uiteindelik besluit om “liefde” te vertaal met ‘n omskrywing: “goed vir jou hart”, doishima in Tiv. Dit het daarna die woord vir liefde geword wat in Bybelvertalings gebruik is. “Heilig” is weer vertaal met “spierwit”!

    Valie het egter talle kere malaria opgedoen en uiteindelik swartwaterkoors en kon ná sy tuisverlof in 1920 nie weer teruggaan nie. Tot sy groot teleurstelling. Hy was later jare sendingsekretaris van die Vrystaatse NG Kerk, trouens veertig jaar lank.

    Hoewel die sendingwerk moeilik was en stadig gevorder het – net 25 bekeerlinge in die eerste 25 jaar van sendingwerk – het uit hierdie sendingwerk twee kerke ontwikkel wat vandag ongeveer drie miljoen lidmate gesamentlik het.

    Die eerste kerk wat geplant is, was die NKST (Nongu u Kristu u i Ser u sha Tar). Dit staan vandag bekend as die Universele Gereformeerde Christelike Kerk. Hulle hoofkantoor is in Mkar-Gboko in die staat Benue met gemeentes wat regoor Nigerië en ook buite hulle grense strek. Hulle het meer as ‘n miljoen lidmate in 360 gevestigde gemeentes, en 4 134 ander kerkies. Hulle bedryf 9 hospitale en 352 gesondheidsentrums, sowel as 500 laerskole en 53 hoërskole. Hulle bedryf ook sewe tersiëre inrigtings wat op teologie en gesondheid fokus. In 2005 het hulle ook die universiteit Mkar begin.

    Hulle is steeds volledig op dieselfde belydenis as die NG Kerk gebaseer, die drie ekumeniese belydenisse en die drie formuliere van eenheid.

    Die tweede kerk wat geplant is, was die Evangelical Reformed Church of Christ. Hulle word veral in die oostelike provinsies van die state Kwara, Niger, Suid Zaria, Suidelike Plato en Akwa Ibon gevind. Hulle lidmaatgetalle het baie gegroei die afgelope twee dekades en het vandag ongeveer een en ‘n halfmiljoen lidmate in honderde gemeentes.

    Hulle is ook min of meer op dieselfde belydenis as die NG Kerk gebaseer. Hulle voeg wel die Westminster Geloofsbelydenis en die Tweede Helvetiese Geloofsbelydenis uit die Gereformeerde tradisie by.

    Pastoor Gbile Akanni het reeds veertig jaar gelede diep onder die indruk gekom van die NG Kerk se sendingwerk in Tivland toe hyself as ‘n sendeling daar onder studente gewerk het in die National Youth Corpus Service organisasie. Gbile Akanni het uiteindelik as dosent klas gegee daar, terwyl sy vrou, Sadi Akanni, ‘n mediese dokter, in ‘n aantal van die NKST hospitale in Tivland gewerk het deur die jare. Andrew Murray se werke het ‘n groot impak op hulle teologie gehad.

    Vandag is Gbile Akanni die leier van die internasionale interdenominasionele Living Seed Ministries wat veral op leierskap fokus. Hulle jaarlikse leierskapskonferensie word deur meer as 15 000 mense van oor die hele wêreld bygewoon. Hy het ook onlangs ‘n kommentaar op 1 Samuel geskryf in die African Commentary of the Bible waaraan 70 teoloë regoor Afrika meegewerk het. (met dank aan Chris van Wyk wat die verhaal opgeteken het).

Dordtse belydenis 400 jaar oud

Die Dordtse leerreëls is gebore uit die eerste en enigste internasionale protestantse sinode wat van 13 November 1618 – 12 Mei 1619 in die Nederlandse stad Dordrecht gehou is.

Die Dordtse leerreëls is natuurlik een van die drie formuliere van eenheid, of belydenisskrifte, wat deur die NG Kerk onderskryf word.

Die belydenis handel oor die genade van God, en bring dit met die Bybelse boodskap oor God se inisiatief in ons verlossing in verband. Christus staan sentraal in dié belydenis. Die grootheid van God word daarin op heerlike wyse bely.

Die bekende Statevertaling van die Bybel, wat Jan van Riebeeck saamgebring het, en waarmee die Voortrekkers die binneland in is, het uit die Dordtse sinode voortgevloei.

Tydens die 350-jarige herdenking van dié belydenis het prof Willie Jonker ‘n artikel daaroor vir Kerkbode geskryf. Lees dit gerus.

Tesame met die Hervormde Kerk en die Gereformeerde kerke beplan die NG Kerk tans hoe ons die sinode en belydenis gaan vier.

Braam Hanekom: Wat behoort die kerk oor die gronddebat te sê?

Na aanleiding van gesprekke oor grondhervorming skryf dr Braam Hanekom openhartig oor die uitdagings vir die kerk en kerkmense, soos hy dit sien.

Hy sluit aan by die Gereformeerde tradisie wat altyd vanuit die Skrif, en getrou aan die Skrif, wil praat. Ons moet ook onthou dat ons uitleg van die Skrif beïnvloed word deur ons leefwêreld en ons belange. Die gesprek oor die opdragte van die Here moet daarom altyd ander insluit.

Hy raak ook die – vir ons – sensitiewe onderwerpe van wit bevoorregting en restitusie aan:

“Verder moet ons nie die omvang van wit bevoorregting onderskat nie. Ons het dit veral deur twee kanale gekry. Die gehalte van ons onderwys en die erflatings van vorige geslagte. Natuurlik is daar uitsonderings van mense wat met niks begin het nie. Die toegang tot netwerke van bevoorregting en kennisse wat bevoorreg is, moet egter nie onderskat word nie. Dit is half ironies dat van die grootste geld wat ook witmense na 1994 gemaak het, in eiendomsontwikkeling was.”

Lees Hanekom se opiniestuk hier.

Is jy ‘n risiko vir padwoede?

Indien jy op een van die volgende vrae “ja” antwoord, is jy waarskynlik ‘n risiko om ‘n padwoede-uitbarsting te beleef:

  1.  Oorskry ek gereeld die spoedperk om betyds by die werk te kom?
  2. Ry ek te naby aan ander bestuurders?
  3. Flits ek my ligte en toet om ander bestuurders te laat weet hulle frustreer my?
  4. Swets en skree ek op ander bestuurders, of hulle my kan hoor of nie?
  5. Verwissel ek gedurig bane in die verkeer om voor ander te kom?
  6. Voel ek die behoefte om ander bestuurders in die bek te ruk?

Vat die kalm en lees hierdie raad. Leer ook wat jy kan doen as jy die skyf vir iemand anders se padwoede word.